Die bekende spermskenker se reg op kontak met die kind : tendense in die Nederlandse en breër Europese familiereg : aantekening

2014 
In 'n vroeere bydrae (Van der Linde "Right of contact of known sperm donors in case of artificially conceived children" HR 11 April 2008 2010 THRHR 690) word die regsposisie in die Nederlandse en breer Europese reg ingevolge artikel 8 van die Europese Verdrag vir die Regte en Vryhede van die Mens, 1953 (hierna EVRM), rakende die bekende spermskenker se reg op kontak met die kind wat deur kunsmatige inseminasie verwek is, bespreek. In daardie bydrae word gefokus op die regsposisie van die bekende spermskenker wat "noue persoonlike bande", oftewel 'n "gesinslewe", met die kind gehad het. Die skrywer huldig die mening dat daar in Suid-Afrika voorsiening gemaak moet word vir die bekende spermskenker om "outomatiese" ouerlike verantwoordelikhede en regte te bekom indien hy aan artikel 21(1)(a) van die Kinderwet, 38 van 2005 voldoen. Alternatiewelik moet dit ook vir hom moontlik wees om die kind te "erken" en geidentifiseer te word as die kind se biologiese vader ingevolge artikel 26 van die Kinderwet, sou daar "gesinslewe" tussen hom en die kind bestaan (2010 THRHR 690 694). Dit sou in ooreenstemming wees met ontwikkelinge in die Nederlandse reg. Die stelling word egter gemaak dat die argumente ten gunste van sodanige erkenning gebaseer op "gesinslewe" nie sal stand hou indien die bekende spermskenker nooit die geleentheid gehad het om 'n gesinslewe met die kind op te bou nie, omdat die moeder hom die geleentheid om dit te doen, ontse het (2010 THRHR 690 695). Hierdie aspek word hieronder (par 5) verder bespreek.
    • Correction
    • Source
    • Cite
    • Save
    • Machine Reading By IdeaReader
    0
    References
    0
    Citations
    NaN
    KQI
    []