Onderweg na goeie wetenskap 4 : evaluasie en kommunikasie

2013 
Ewekniebeoordeling vertoon fundamentele gebreke, soos wisselende oordele en ʼn onvermoe om werklik nuwe kennis te waardeer. Pogings om ewekniebeoordeling te verbeter skep net verdere probleme. As oorsaak word kruipende subjektiwiteit aangevoer en dit dui op onaanvaarbare aannames oor werklikheid, mens, kennis en wetenskap. Hierdie artikel is ʼn poging om ʼn nuwe benadering voor te stel. Kollektiewe intelligensie is die vertrekpunt. Nie alleen is ʼn groep slimmer as ʼn individu nie, maar so kom verskillende benaderings, kriteria, prioriteite en so meer in spel en onder die vergrootglas. Terselfdertyd plaas dit wetenskaplike navorsing weer midde-in die wetenskapsgesprek en word navorsing werklik kennisvermeerdering. Beoordeling vereis veel meer as blote vakkennis. Navorsing het as doel om deur kennisvermeerdering ʼn bydrae tot die wetenskap te lewer. Die beoordeling van navorsing vra dan ook kennis en vaardighede op hierdie twee terreine, dit wil se kennis van kennis en van wetenskap. Omdat beoordeling nie ʼn aktiewe deel van vakopleiding uitmaak nie, behoort beoordelaars opgelei te word om te kan beoordeel. Bekendheid met die aard en vereistes van beoordeling word bloot veronderstel, met die gevolg dat allerlei onhoudbare idees hieromtrent taakvervulling bemoeilik. Konseptuele reorientasie oor "beoordeling" is nodig en insig in belangrike aspekte daarvan, soos die aard van kriteria, die onderskeid tussen feite en waardes, en die struktuur van waarde-argumente, is nodig en vereis opleiding. Ons bespreek die belangrikheid van gesprek as ʼn deel van beoordeling, en van beoordeling as ʼn bron en vertrekpunt van gesprek, in aansluiting by die logiese band tussen wetenskapsbeoefening en gesprekvoering. Ons beskou wetenskapsbeoefening as deelname aan ʼn deurlopende en nimmereindigende gesprek. Beoordeling behels verder byna altyd die lees van ʼn geskrewe navorsingsverslag. Dit beteken die leeshandeling beklee ʼn sentrale plek in beoordeling. Die hervorming van beoordeling is dus afhanklik van die verbetering van leeshoudings en -style. Lineere lees moet vervang word deur inventiewe lees, sodat beoordelaars ʼn deel van die navorsingsproses word en ʼn positiewe en konstruktiewe bydrae tot die navorsingsprojek kan lewer.
    • Correction
    • Source
    • Cite
    • Save
    • Machine Reading By IdeaReader
    0
    References
    0
    Citations
    NaN
    KQI
    []